Berading is ’n professionele verhouding met omskrewe regte en verantwoordelikhede vir beide die berader en die beradene. Hierdie grense help om ’n veilige, respekvolle en ondersteunende ruimte vir persoonlike groei en verandering te skep. Die beradings proses bestaan tot jou voordeel en welstand, en dit is belangrik dat jy jou regte verstaan, sowel as die beperkings van daardie regte.
Jy mag berading te eniger tyd beëindig. Indien jy dit oorweeg, word jy aangemoedig om dit so vroeg moontlik met jou berader te bespreek. Waar dit moontlik is, word ’n beplande beëindiging aanbeveel om vordering te evalueer, onafgehandelde sake aan te spreek en die beradings verhouding op ’n gesonde wyse af te sluit.
Indien jy op enige stadium glo dat jou berader nie die regte persoon vir jou is nie, word jy aangemoedig om hierdie bekommernis te opper. Indien die saak nie opgelos kan word nie, sal jy gehelp word om ’n alternatiewe geskikte berader te vind.
Deur hierdie dokument te onderteken, tree jy in ’n wetlik bindende ooreenkoms tussen berader en beradene. Jy mag hierdie ooreenkoms te eniger tyd skriftelik herroep, onderhewig aan enige stappe wat reeds geneem is in vertroue daarop.